DIE BETEKENIS VAN DIE SEWENDE DAG

Prof. FP Möller

So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gedoen het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak. Genesis 2:1-3 

  1. Die feit dat God die sewende dag gerus het, dui nie daarop dat hy moeg was nie. God raak nie soos ‘n mens moeg nie (Jesaja 40:28)
  2. Die Hebreeuse woord “shabath” (rus) soos hier gebruik, beteken letterlik: “om op te hou” of “om te stop” (byvoorbeeld soos vertaal in Genesis 8:2 en Jesaja 14:4). a.w. dit dui daarop dat God klaar was met sy skeppingswerk – Hy het opgehou of gestop waarmee Hy besig was.
  3. Die woord “rus” het ook ‘n dieperliggende betekenis soos dit in Genesis 2:1-3 gebruik word. Die sewende dag staan in kontras met die eerste ses dae. Die kontras is: die ses dae is afgebakende periodes van ‘n aand en ‘n môre. Die sewende dag het wel ‘n begin, maar het nie ‘n aand en ‘n môre wat opgevolg word deur ‘n volgende dag nie. Die sewende dag het nie ‘n einde nie, en mond uit in die ewigheid.
  4. God is ewig. Die eerste dag en die skeppingsdae wat daarop volg, is God wat uit die ewigheid in tyd begin werk. Die sewende dag is verbind aan tyd (dit het ‘n begin), maar gaan weer terug in die ewigheid in. Ewigheid -> Ses dae en begin van sewende dag -> Ewigheid
  5. God se skeppingsplan begin in die ewigheid, realiseer in tyd, en dan mond dit weer in die sewende dag uit in die ewigheid. Die sewende dag spreek daarom van die verbintenis tussen tyd en ewigheid.
  6. Hierdie verbintenis tussen tyd en ewigheid van die sewende dag, dui op die doel van God se skepping – dit moet begin in tyd maar uiteindelik uitmond in die ewigheid. Die mens en die sigbare skepping wat in tyd geskape is, se skepping moet uitmond in die ewige lewe met ‘n nuwe hemel en aarde wat nie van verganklikheid spreek nie (Romeine 8:19-23).
  7. Om hierdie waarheid te aksentueer, het God die sewende dag as ‘n Sabatsdag (Rusdag) ingestel waarop die mens geen werk mag doen nie, en die dag geheilig (afsonder) vir God (Eksodus 20:9-11; 31:15).
  8. Die Sabatsdag was daarom ‘n voorafskaduïng van wat God se doel met die skepping is. ‘n Ewige saligheid van rus / vrede. Die woord “rus” het in die Ou Testament ook gespreek van: vreedsame verblyf (Deuteronomium 28:65); die beloofde land (Psalm 95:11); van voorspoed (Psalm 90:13); van blydskap (Jesaja 14:3).
  9. In die Nuwe Testament word hierdie rus spesifiek aan Christus gekoppel: Kom na My toe , almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. (Matteus 11:28)
  10. Van hierdie ware rus lees ons ook in Hebreërs 4:3-11. Hier word die rus van die sewende dag spesifiek in verband gebring met die ewige rus van saligheid soos in Christus realiseer.
  11. Die sewende dag spreek daarom van Christus wat die ware brug tussen aarde (tydelikheid) en hemel (ewigheid) is. Christus verbind tyd en ewigheid aan mekaar – Christus het vlees (tydelikheid) geword.
  12. Paulus (Kolossense 2:16-17) sien daarom die Sabat as ‘n skaduwee van wat reeds in Christus gekom het en uiteindelik in sy volle konsekwensies sal deurbreek met die wederkoms.
  13. Die Sabbat van die Ou Testament is in Christus vervul, en moet daarom nie meer gevier word nie. Daarom moet nie dat iemand julle voorskryf wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus (Kolossense 2:16-17).
  14. Die werklikheid van Christus wat ons Middelaar is (Hy wat verganklikheid met die onvergankike of ewige verbind het) het gerealiseer. Om nog steeds die Sabbat te hou, is om te sê dat Christus het nog nie gekom nie, en die Sabbatdag is nog nie vervul nie, en ons nog nie die ewige lewe verkry het of daaraan verbind is nie. Dit kom m.a.w. neer op ‘n verloëning van Christus. Christus is nou ons Sabbatdag en ons leef in Christus elke dag as ‘n Sabbatsdag. Ons is in Christus klaar verbind aan die ewige rus.
  15. Dit is ook betekenisvol dat Christus op die eerste dag opgestaan het. Die huidige skepping het begin op die eerste dag. Die opstanding spreek van die begin van die herskepping van alle dinge. Ons het reeds saam met Christus opgestaan in hierdie nuwe skepping, maar staan eers finaal op met die wederkoms (1 Korintiërs 15: 28 en 42-55). Daarom het ons reeds die ewige lewe waarvan die sewende dag spreek (dit is vervul), maar dit breek eers in sy volle konsekwesies deur met die wederkoms en die opstandingsgebeure.