Ons volgende woord in die studie van lofprysing is “yadah”. Yadah kom omtrent 90 keer in die Bybel voor.

Yadah beteken ” Om die hand uit te gooi of uit te skiet “. Hoekom sou God dit uitlig in Die Woord en hoekom is dit belangrik?

Almal weet dat ons hande ‘n verlengstuk is van ons emosie en ons binneste. As ‘n klein kind sy ma na ‘n tyd weg weer sien, is die natuurlike gebeurtenis dat hy/sy hulle arms uitskiet, na haar toe hardloop en in haar arms spring. As iemand senuweeagtig is, wring hulle hulle hande teen mekaar. As iemand ‘n pistool op jou rig, is die eerste aksie om jou hande skiet uit. Die mooiste een vir my is hoe sommige mense rigting verduidelik oor ‘n telefoon: al kan die ander persoon jou nie sien nie, doen jou hande die links- en regsaanwysings saam!

Ek glo daar is ‘n paar implikasies wanneer ons fisies ons hande uitskiet na God. Dit het eerstens ‘n onderbewuste boodskap van oorgawe. Nie uit vrees nie, maar uit erkenning dat ek aan die Almalgtige God moet oorgee. Dit kan ook ‘n teken wees van roep om hulp. Soos die vrou in die Bybel wat aan bloedvloeiing gely het. Sy moes haar hand in geloof uitsteek en aan Jesus se kleed raak. Dalk is dit ook soos ‘n kind wat uitreik na sy pa en met die aksie sê: “Sien my raak, tel my op, hou my vas”.

Ek kan nie anders as om te dink dat voordat God iets van ons verwag, Hy dit nie self ook eerste gedoen het nie. Die Bybel leer ons dat God se arm nie te kort geraak het om te help nie. Hy strek dus sy hand van hulp na ons toe uit. En Jesus, wat op die kruis sy arms uitgestrek het as simbool dat die hele wêreld welkom is, mag inkom vir vergifnis, nader kom en sy aanvaarding geniet.

Die “uitskiet” deel is ook ‘n manier van hand opsteek. Dit is nie huiwerig, halfhartig, en senuweeagtig nie, maar ‘n uitskiet in oorgawe na ‘n Vader wat jou liefhet. Jy sê eintlik met jou hande: “Pappa (Abba) Vader!”

Het jy dit al gedoen? Om in opregtheid en in lof jou hande na God uit te skiet? Dit sal vir jou ‘n bevrydende oomblik van oorgawe wees waar jou eie vlees (skaamheid) gekruisig word en jy self in aksie jou oorgawe aan God beleef.