Reg deur die Bybel word ons aangemoedig om te sing tot eer van die Here. Dit is meer as dit, dit is nie net ‘n opsionele ietsie nie.”. Dit is meer soos ‘n bevel of ‘n baie sterk aanmoediging!

Kolossense 3:16 Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.

Efesiërs 5:19 Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here,

Hoekom  is daar so ‘n hoë premie op sang?

Musiek en melodie het ‘n baie misterieuse uitwerking. Musiek het die vermoë om ‘n groot impak op jou emosies te hê. Dink sommer ‘n bietjie aan ‘n paar films: Daardie riller met die senutergende musiek, of die romantiese film wat trane laat opwel. Niks van dié belewenisse sou kon gebeur sonder musiek nie. As musiek en woorde meng, het dit ‘n radikale impak. Eerstens veroorsaak musiek dat jy lang paragrawe woorde sommer net kan onthou. Dink aan jou gunstelling liedjies wat jy op ipod, radio of DVD’s saamsing. Hoe moeilik sou dit wees om al daardie woorde uit jou kop te leer sonder musiek. Met musiek is dit kinderspeletjies.

Nou verstaan ons die aangehaalde skrifte beter. God wil hê dat ons Hom in ons sang aanbid, maar dat ons ook opgebou word deur Sy woord wat ons sing. So word ons gedagtes en emosies getransformeer om gelykvormig te word aan SY gedagtes en woord.

Laastens is dit ook proklamasies wat ek maak. Daar is ‘n groot verskil tussen die woord net te hoor, of om die woord te hoor en te bely. (met jou eie mond te spreek.) My belydenis het groot krag. So wanneer ek die woord van God sing, het dit skeppingskrag in my lewe. (Spreuke 18:21)

Dus is sang ‘n kardinale deel van die kind van God se lewe.