Die derde woord in ons lofprysing woordstudie is “barak”. Dit word 70 keer in die Bybel gebruik.

Barak beteken letterlik “Om te kniel, te salueer/begroet of te seën.” Dit is weinig vokaal van aard en is die enigste stil lofprysing (aanbidding).

 

Lof kan stil wees. As ek aan die woord dink, dink ek aan ‘n tipiese Amerikaanse Militêre begrafnis wanneer ‘n held afgesterf het. Die grootste lof wat so soldaat kan kry, is as dat daar honderde soldate staan en soos een man in stilte hom salueer. Sonder om ‘n woord te sê weet almal wat die implikasie is: Daar is uiterste respek, dankbaarheid, en eer wat met dit bewys word.

 

Almal verstaan ook sonder om te hoef beskryf, wat die implikasie van kniel voor iemand en jouself neerbuig, is. Jy verneder jouself voor die persoon en buig neer tot sy wil. Tog buig ons nie neer voor ‘n diktator wat ons dwing nie, maar gee ons oor aan die een wat beter weet as ons. Ek dink altyd aan die prentjie van die Middeleeuse oorlogsheld waar mense met hulle eie wil, hulleself kom oorgee aan sy leiding, al kos dit hulle dood, omrede hulle glo in die saak waarvoor hierdie leier staan. As teken kom kniel hulle dan voor hom en ‘pledge allegiance’ aan hom. As ons regtig begin verstaan wie die Vader, Seun, en Heilige Gees is, raak dit maklik om ons knie voor Hom te buig. Hy wat vir ons opstaan, vir ons veg, ons held van verlossing is. En die beste van allles is dat Hy nie genoodsaak was om dit te doen nie. Ons het niks om Hom te betaal vir dit wat Hy gedoen het nie. Dit is slegs uit liefde. Daarom buig ons die knie voor Hom. Tog is dit soms nodig om dit nie net figuurlik te doen nie, maar juis ook as ‘n aksie van die liggaam.

 

Wil jy nie ook vandag jou knie voor God buig in dankbaarheid nie?