Soos voorheen reeds genoem, is daar heelparty woorde in Hebreeus en Grieks wat na “prys” toe vertaal word in Afrikaans; elkeen met sy eie aksie-betekenis. Ons gaan eers net fokus op die sewe wat die meeste voorkom en wat eintlik ook oorkoepelend is rakende die idee van lofprysing.

 

Die eerste een is die woordjie “hallal”. Dit kom omtrent 100 keer in die Bybel voor, en behoort redelik bekend te lyk, omdat die woord “halleluja” van dit afgelei is. Letterlik vertaal, beteken dit: “Te roem, op te hemel, uitbundig verspot te wees“. Dit impliseer dat iemand hard en luid sy liefde teenoor God verklaar.

As vergelyking, dink ek altyd aan wanneer iemand smoorverlief is. Ons het dit al almal in die flieks gesien: Daardie man wat met sy kitaar voor die meisie se venster staan en sing so hard as wat hy kan, of dit nou vals is of nie. Al die honde blaf, bure tuur uit, maar hy gee nie om nie. Sy fokus is op die liefde van sy lewe en hy is bereid om totaal gek te lyk vir die res van die wêreld, solank sy net die boodskap kry dat hy bereid is om homself bespotlik te maak vir haar. Sy is dié top prioriteit. Dan ook verliefdes wat saam hardloop in die park en verspot is, almal kyk vir hulle, maar hulle gee net nie om nie. Die liefde is hulle fokus.

 

Dit herinner my aan ‘n man op ‘n kruis, meer as 2 000 jaar gelede, wat nie omgegee het om Homself te verneder nie. Net sy oorvloedige liefde vir ons was sy fokus. Jesus was bereid om vir die wêreld verspot te lyk om ons te wen. Ons enigste uitdrukking van dankbaarheid vir dit wat Hy gedoen het, behoort dus ook so uit te vloei. Maak nie saak wat mense sê nie, ek sal God prys, uitbundig verspot wees, Hom ophemel en oor Hom roem, want Hy het dit vir my gedoen.

Hier is jou uitdaging: Wanneer laas het jy ge“hallal” voor God?