“Moet ons God loof en aanbid? Is Hy ‘n diktator wat mense dwing om hom te aanbid?”

Dit is die uitgangspunt van baie mense wat God nie ken nie. Die waarheid is dat aanbidding nooit afgedwing kan word nie. Kom ons vat ‘n liefdesverhouding as ‘n voorbeeld. ‘n Vrou kan nie ‘n man dwing om haar lief te hê, mooi goed van haar te sê, blomme te koop en gediggies te skryf nie. Dis tog verregaande! Maar iets gebeur wanneer iemand verlief is. Niemand hoef so man te dwing nie. Dit kom sommer van self! Hy aanbid die grond waarop sy loop.

En dit is dieselfde met aanbidding teenoor God. Is Hy waardig? Vir seker! Openbaring 4:11 leer vir ons dat Hy alles geskape het en dat ons deur en vir Sy wil geskape is. Die NLT-vertaling vertaal dit as dat ons vir Sy PLESIER geskape is.

Maar selfs al verdien iemand om aanbid te word, kan dit nie afgedwing word nie. Liefde kan slegs VERDIEN word. God het dit verstaan. Hy kon ons DWING, maar dan was ons slegs ‘n klomp robotte sonder ‘n wil. En dit was God se grootste risiko toe Hy ons geskape het: ‘n vrye wil. Hy wou hê ons moet SELF KIES om Hom lief te hê en te aanbid omdat ons REAGEER op Sy liefde vir ons.

Daarom het hy die uiterste prys betaal, deur vir ons te sterf terwyl ons nog sy vyande was en sy liefde te bewys en ons los te koop van die slawerny en vernietiging van sonde.

Wanneer jy daardie gewaarwording kry en sy liefdesoffer sien, kan jy nie anders as om verslae te staan oor wat hy gedoen het nie. Dan is die enigste reaksie: Dankie! Dankie! Dankie! Vir ewig en ewig.

Dus is die vraag nie: “Moet ek God aanbid?” nie, maar eerder: “Hoe kan jy Hom nie aanbid nie?”