Kan ek God loof en prys met my liggaam?

In Romeine 12:1 lees ons die volgende:

Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.

As ek God se kind is, is alles wat ek het in Sy diens en behoort aan Hom. Dus is nie net my gees deel van die pakkie nie, maar my liggaam ook. Paulus moedig ons eintlik aan in die skrif dat ons liggame altyd in alles wat ons doen as ‘n lewendige offer aan God moet wees, m.a.w. alles wat ons doen met ons liggaam is deel van ons aanbidding. Nie net wanneer ons sing en aanbid in ‘n byeenkoms nie.

Tog is daar wel ook wanneer ek besig is om intensioneel te sing en God te aanbid werk vir my liggaam. Die woordjie “prys” of “lofprysing” in ons taal is baie arm. Daar is baie woorde in Hebreeus en Grieks waarin die Bybel oorspronklik geskryf is, wat net na een woord “prys” toe vertaal word. As ons dus dieper wil ingaan en navors wat “lofprysing” behels, moet ons gaan kyk wat die woorde was, en wat dit beteken het. Dan gaan daar ‘n hele nuwe wêreld oop van hoe ons aangemoedig word om God te prys. Volgende keer begin ons hierdie woorde navors en oopbreek.