ATLETIEKKLUB

Die klub is geaffilieer met ASA. Kom beleef beplande oefeninge, spontane
ondersteuning en goeie geselskap, terwyl jy werk aan ‘n gesonde liggaam en gees. Padwedlopers en stappers is welkom.

BERGFIETS-AKSIE

Jy en jou gesin kan op julle bergfietse saam die natuur beleef. Daar is verskeie roetes, plaaslik en verder, wat aangepak kan word. Wedrenne, asook sosiaal.

EMMANUEL (50-Plussers)

Die Emmanuelgroep is ‘n interkerklike, sosiale kuieraksie vir seniors bo 50-jarige ouderdom wat een keer per maand saam kuier. Gaskunstenaars en/of sprekers word dan vir hierdie byeenkomste gereël. Kom deel, luister en kuier saam met ons.

GHOLF-AKSIE

Kom en geniet ‘n gesonde en ontspannende rondte gholf. Alle gholfspelers is welkom om een maal per maand, op ‘n Saterdagoggend, op verskillende bane die stokke te kom swaai. Daar is ook ‘n jaarlikse gholfdag wat in Meimaand plaasvind.
Die jaarlikse klubkampioenskappe vind gewoonlik gedurende Oktober/November plaas.

INFOKUS (FOTOGRAFIE)

Om werklik ‘n goeie foto te neem en te weet hoe om dit keer op keer te doen, is ‘n kuns. Dit is wat ons almal, wat ‘n passie vir fotografie het, graag wil doen. INFokus, fokus daarop om jou te help om jou kamera beter te verstaan en hoe om dit optimaal te gebruik. Ons bied een tegniese sessie per maand aan en dan onderneem ons om een keer per kwartaal ‘n praktiese uitstappie te beplan.

KAMPEER-AKSIE

Wat van ‘n wegbreeknaweek saam met vriende? Kampeer en ontspan saam met ander families van LewenSentrum by ‘n verskeidenheid van kampeerplekke, nie te vêr van jou gemeente nie.

KUNSTERAPIE

Ons kuier saam, geniet dit om met ‘n kwas en verf iets mooi op ‘n bord te skilder, ons kuns uit te leef en mekaar te help om die fynere kuns van skilder te bemeester. Kom geniet die tyd saam met ons.

PARKRUN-AKSIE

Jy het die geleentheid om Saterdagoggende saam met ander
persone in die natuur te stap/en te draf.

VOETSLAAN-AKSIE

Wat kan beter wees as die vars oggendlug, of die getjirp van voëls op ‘n warm somersdag, of die reuk van veldgras na ‘n reënbui? Voeg daarby lekker geselskap van mede-gelowiges wat saam ‘n verskeidenheid van staproetes, met verskillende afstande, aandurf.